Welkom Arie kuiken!!
Welkom by ons Gr. R en RR Pre-primêre skool. Ontmoet Arie se 5 maatjies wat al vir jare tuis is by Laerskool Die Arend Pre-primêr en elke dag saam ons speel en leer:
1. Frikkie sorg vir Fisiese ontwikkeling.
Ons hardloop,kruip, rol, spring, klim en speel op ons kleurvolle speelgrond om al ons groot motoriese spiere te ontwikkel. In die klas gebruik juffrou die lekkerste opvoedkundige apparate om ons fyn spiere slim te maak.
2. Eddie kyk mooi na ons Sosiale- en emosionele ontwikkeling.
Van jongs af word die unieke Arie waardes by ons kleuters vasgelê. Ons leer van maniere en goeie gewoontes. Ons Arie kuikens word gemotiveer om uniek te wees en hul persoonlikheid te ontdek. Om maatjies te maak, om ons emosies op ‘n positiewe manier uit druk, met selfvertroue by die hek in te stap, respek en empatie vir ons maats te hê, hulpvaardig teenoor mekaar te wees en almal te aanvaar soos hulle is, leer ons om emosioneel intelligent te wees.
3. Kosie maak seker ons Kognitiewe ontwikkeling is tops.
Konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke is die bepalende faktore van ons kleuters se leervermoë. As ons kognitiewe ontwikkeling sterk is voel leer soos speel!
4. Timmy ontwikkel ons Taalgebruik.
Hierdie skool het nie net lank, lank gelede gehou van stories en gesels nie. Ons is trots op ons taal en gebruik al ons lip-lekker Afrikaanse woorde oral om ons in die klas. Soms gebruik ons dit vir storie lees en ander kere vir rympies, sing, stry en staaltjies van wat by die huis gebeur het.
5. Bobbie weet dat Fantasie spel ons kreatief maak.
Om ons speel-speel te verbeel is die lekkerste in die klas. Ons leer om te bak-en-brou, ons leer om met herwinbare items enige konstruksie te bou. Om kreatief te wees maak soveel deure binne en buite die klaskamer oop. Verbeel jou net…